Voortrekker Monument.
Die groot, grys granietkolos is uit alle rigtings sigbaar as Pretoria genader word … die massiewe Voortrekkermonument, gebou ter ere van die Voortrekkers wat die Kaapkolonie tussen 1835 en 1854 in hulle duisende verlaat het. Die argitek was Gerard Moerdijk en dit was sy ideaal om 'n monument te ontwerp wat as 'n "gedenkteken duisend jaar en langer moet staan om aan die nageslagte die geskiedenis en betekenis van die Groot Trek te verduidelik." Die Voortrekkermonument is kleiner as die Hotel des Invalides in Parys, die graf van Napoleon, veel kleiner as die Taj Mahal in Indië, en net 'n elfde so groot soos die Völkerschlachtdenkmal in Leipzig. In vergelyking met daardie geboue is die Voortrekkermonument beslis nie een van die groot monumente van die wêreld nie; tog het die argitek 'n doelbewuste poging aangewend om 'n massiewe, indrukwekkende monument daar te stel. Die gedagte om 'n monument ter ere van al die Voortrekkers te bou, het reeds op 16 Desember 1888 ontstaan, toe pres. Paul Kruger die Geloftedagvieringe by Bloedrivier in Natal bygewoon het. Maar dit was eers in 1931 dat die Sentrale Volksmonumentekomitee (S.V.K.) gestig is om uitvoering aan hierdie ideaal te gee. Op 13 Julie 1937 het 'n sooispitplegtigheid op Monumentkoppie plaasgevind. Advokaat E.G. Jansen, voorsitter van die S.V.K., het die eerste sooi omgekeer. Die daaropvolgende jaar, op 16 Desember is die hoeksteenlegging formeel waargeneem. Die hoeksteen is gelê deur mev. J.C. Muller (kleindogter van Andries Pretorius), mev. K.F. Ackerman (agterkleindogter van Hendrik Potgieter) en mev. J.C. Preller (agterkleindogter van Piet Retief). Elf jaar later is die Monument op 16 Desember 1949 ingewy. Die totale koste verbonde aan die oprigting daarvan was £359,600, waarvan die Staat die meeste bygedra het. Fondse is aangevul deur skenkings, verkope van spesiale seëls, gedenkkoeverte, aandenkings en publikasies. 'n Groot amfiteater is ook in 1949 aan die noord-oostekant van die Monument opgerig, en bevat sitplek vir ongeveer 20,000 mense. Afgesien van die massiwiteit van die Monument, is daar veral twee elemente wat hierdie monument besienswaardig maak: die historiese Fries en die Senotaaf. Die unieke marmerfries is 'n intrinsieke deel van die ontwerp - in basreliëf beeld 27 panele die verhaal van die Groot Trek van 1835 tot 1852 uit. Die Fries verbeeld nie net die geskiedenis van die Groot Trek nie, maar toon ook die lewenswyse, werkmetodes, godsdienstige beskouing en lewensingesteldheid van die Trekkers. Die sentrale fokuspunt van die Monument is die Senotaaf. Bokant die Heldesaal is 'n koepel, vanwaar op die interieur van die Monument afgekyk kan word. Dit is deur die opening in daardie koepel dat 'n sonstraal elke jaar op 16 Desember om twaalfuur in die middel van die Senotaaf, op die woorde "Ons vir Jou, Suid-Afrika", skyn. Die sonstraal simboliseer God se seën op die lewe en strewe van die Voortrekkers.
Taal Monument
Op 14 Augustus 1975 was dit honderd jaar sedert die Genootskap van Regte Afrikaners (G.R.A.) in die Paarl gestig is. Die Genootskap se doelstelling was om Afrikaans, wat toe reeds die spreektaal van duisende mense was, tot skryftaal te verhef, as leestaal aanvaar te kry en as landstaal erken te kry. Langs die weg sou dit dan onder meer skooltaal, Bybeltaal en kanseltaal word. Hierdie werksaamheid staan bekend as die Afrikaanse Taalbeweging. Die G.R.A. was die organisasie wat aan die eerste fase van die Taalbeweging vorm en inhoud gegee het. Met die oog op die eeufees van die Taalbeweging wou die Afrikaanse Taalmonumentkomitee 'n waardering gedenkteken vir die Afrikaanse taal op Paarlberg oprig. Die komitee wou ook die wegbereiders, stigterslede, andere lede en medewerkers van die G.R.A. op gepaste wyse vereer en die ontplooiing van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging uitbeeld. Dit sou geskied deur middel van 'n museum, gevestig in die huis waar die G.R.A. gestig is - die groot woonhuis van die gesiene Paarlse wynboer en sakeman Gideon Malherbe, wat 'n stigterslid van die G.R.A. was. Die huis het gelukkig behoue gebly. Die Taalmonumentkomitee het in 1971 die huis aangekoop en dit laat restoureer onder toesig van die Kaapstadse argitek Gabriel Fagan. Die bouwerk is deur die werkspan van Historiese Huise Beperk uitgevoer. Op 14 Augustus 1975 is die museum feestelik geopen.
Afrikaans
Boere
Monumente
Webblad
Persoon
Boerekos
Boere raad
Boere musiek
Boeresport
Digkuns
Forum Video
Gesels Forum