Tuis
Kinder Blad
Tiener Blad
Boereraat
Boeresport
Diere / Visse / Voels
Geskiedenis
- Webblad
- Persoon
- Boere
- Helde
Godsdiens
Kuns (eie blad)
Humor
Monumente
Musiek
Resepte
Onthou u nog
Skakels
Sport
Taal
Visa en immigrasie
Nuwe Projekte
Kontak Ons
Skaam Jou

 

 
Voortrekker Monument.

Die groot, grys granietkolos is uit alle rigtings sigbaar as Pretoria genader word … die massiewe Voortrekkermonument, gebou ter ere van die Voortrekkers wat die Kaapkolonie tussen 1835 en 1854 in hulle duisende verlaat het. Die argitek was Gerard Moerdijk en dit was sy ideaal om 'n monument te ontwerp wat as 'n "gedenkteken duisend jaar en langer moet staan om aan die nageslagte die geskiedenis en betekenis van die Groot Trek te verduidelik."

Die Voortrekkermonument is kleiner as die Hotel des Invalides in Parys, die graf van Napoleon, veel kleiner as die Taj Mahal in Indië, en net 'n elfde so groot soos die Völkerschlachtdenkmal in Leipzig. In vergelyking met daardie geboue is die Voortrekkermonument beslis nie een van die groot monumente van die wêreld nie; tog het die argitek 'n doelbewuste poging aangewend om 'n massiewe, indrukwekkende monument daar te stel.

Die gedagte om 'n monument ter ere van al die Voortrekkers te bou, het reeds op 16 Desember 1888 ontstaan, toe pres. Paul Kruger die Geloftedagvieringe by Bloedrivier in Natal bygewoon het. Maar dit was eers in 1931 dat die Sentrale Volksmonumentekomitee (S.V.K.) gestig is om uitvoering aan hierdie ideaal te gee.

Op 13 Julie 1937 het 'n sooispitplegtigheid op Monumentkoppie plaasgevind. Advokaat E.G. Jansen, voorsitter van die S.V.K., het die eerste sooi omgekeer. Die daaropvolgende jaar, op 16 Desember is die hoeksteenlegging formeel waargeneem. Die hoeksteen is gelê deur mev. J.C. Muller (kleindogter van Andries Pretorius), mev. K.F. Ackerman (agterkleindogter van Hendrik Potgieter) en mev. J.C. Preller (agterkleindogter van Piet Retief). Elf jaar later is die Monument op 16 Desember 1949 ingewy. Die totale koste verbonde aan die oprigting daarvan was £359,600, waarvan die Staat die meeste bygedra het. Fondse is aangevul deur skenkings, verkope van spesiale seëls, gedenkkoeverte, aandenkings en publikasies. 'n Groot amfiteater is ook in 1949 aan die noord-oostekant van die Monument opgerig, en bevat sitplek vir ongeveer 20,000 mense.

Afgesien van die massiwiteit van die Monument, is daar veral twee elemente wat hierdie monument besienswaardig maak: die historiese Fries en die Senotaaf. Die unieke marmerfries is 'n intrinsieke deel van die ontwerp - in basreliëf beeld 27 panele die verhaal van die Groot Trek van 1835 tot 1852 uit. Die Fries verbeeld nie net die geskiedenis van die Groot Trek nie, maar toon ook die lewenswyse, werkmetodes, godsdienstige beskouing en lewensingesteldheid van die Trekkers.

Die sentrale fokuspunt van die Monument is die Senotaaf. Bokant die Heldesaal is 'n koepel, vanwaar op die interieur van die Monument afgekyk kan word. Dit is deur die opening in daardie koepel dat 'n sonstraal elke jaar op 16 Desember om twaalfuur in die middel van die Senotaaf, op die woorde "Ons vir Jou, Suid-Afrika", skyn. Die sonstraal simboliseer God se seën op die lewe en strewe van die Voortrekkers.

Taal Monument

Op 14 Augustus 1975 was dit honderd jaar sedert die Genootskap van Regte Afrikaners (G.R.A.) in die Paarl gestig is. Die Genootskap se doelstelling was om Afrikaans, wat toe reeds die spreektaal van duisende mense was, tot skryftaal te verhef, as leestaal aanvaar te kry en as landstaal erken te kry. Langs die weg sou dit dan onder meer skooltaal, Bybeltaal en kanseltaal word. Hierdie werksaamheid staan bekend as die Afrikaanse Taalbeweging. Die G.R.A. was die organisasie wat aan die eerste fase van die Taalbeweging vorm en inhoud gegee het.

Met die oog op die eeufees van die Taalbeweging wou die Afrikaanse Taalmonumentkomitee 'n waardering gedenkteken vir die Afrikaanse taal op Paarlberg oprig. Die komitee wou ook die wegbereiders, stigterslede, andere lede en medewerkers van die G.R.A. op gepaste wyse vereer en die ontplooiing van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging uitbeeld. Dit sou geskied deur middel van 'n museum, gevestig in die huis waar die G.R.A. gestig is - die groot woonhuis van die gesiene Paarlse wynboer en sakeman Gideon Malherbe, wat 'n stigterslid van die G.R.A. was. Die huis het gelukkig behoue gebly.

Die Taalmonumentkomitee het in 1971 die huis aangekoop en dit laat restoureer onder toesig van die Kaapstadse argitek Gabriel Fagan. Die bouwerk is deur die werkspan van Historiese Huise Beperk uitgevoer. Op 14 Augustus 1975 is die museum feestelik geopen.

Die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein is 'n monument ter herinnering aan die tragedie van ontbering wat vroue en kinders getref het tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Ongeveer 27 000 Boere vroue en -kinders het tydens die oorlog in Britse konsentrasiekampe gesterf.

Die ontwerp van die monument is gedoen deur Frans Soff en die beeldhouwerk deur Anton van WouwEmily Hobhouse het die sentrale beeldegroep geskets. Hierdie beeldegroep verleen uiting aan die persoonlike belewenis van Emily Hobhouse op 15 Mei 1901, verbonde aan ‘n toneel van gebroke vroue en 'n sterwende kind in die Springfontein-konsentrasiekamp.

Die beeld is onthul op 16 Desember 1913, tydens 'n geleentheid waar sowat 20 000 mense vanoor die hele Suid-Afrika saamgetrek het om die verrigtinge te volg.

Ontstaan [wysig]

Die gedagte om 'n monument op te rig, is uitgespreek deur M.T. Steyn, destydse president van die Vrystaatse Republiek, tydens mediese behandeling in Europa na afloop van die Tweede Vryheidsoorlog. Sy vrou, Tibbie Steyn, het hierin gedeel, veral omdat sy 'n aantal familie en vriende wat in konsentrasiekampe aangehou is, aan die dood afgestaan het. Sy had ook 'n noue verbintenis met Emily Hobhouse.

Loodskomitee [wysig]

Terug in Suid-Afrika het Steyn die gedagte verder gevoer. Sy loodskomitee het 'n praktiese alternatief bedink, naamlik om 'n skool of hospitaal op te rig. Steyn se standpunt was dat die hoë koste van bedryf van so 'n alternatief die monumentmotief moontlik sal stroop van die element van inspirasie wat eerstens tot die oprigting daarvan aanleiding moes gee. Verdere konsultasie met verskeie Afrikanerorganisasies lei tot die besluit om 'n monument op te rig ter herdenking aan vroue, moeders en kinders wat gedurende die oorlog gesterf het.

Befondsing [wysig]

Nadat Steyn se loodswerk suksesvol verloop en deur sy komitee aanvaar is, het die koste met 'n teikenbedrag van £10 000 prioriteit geniet. Die komitee het die openbare belangstelling geprikkel en kollektelyste ingestel. Versoeke tot bydraes is gerig aan kerke, kulturele en vroue-organisasies. Bydraes is ontvang van alle lae van die Afrikanerbevolking en Steyn het persoonlik ontvangs van elke bydrae erken. Na verloop van 4 jaar tot 1911 is die bedrag byeengebring en kon uitvoering aan die werk begin.

Teenstand [wysig]

In 1912 is oprigting van die monument langdurig voorafgegaan deur uitgesproke bedenkinge onder oorwegend Engelssprekende lede van die Bloemfontein stadsraad, naamlik dat dit negatief sou reflekteer op Groot Brittanje en by implikasie op plaaslike inwoners van die Vrystaatse hoofstad, wat die Britse oorlogpoging teen Suid-Afrika gesteun het. Nadat heftige debat oor hierdie gevoeligheid gevoer is, is toestemming uiteindelik tog verleen en kon oprigting voortgaan.

Hierdie gebeure is gevolg deur tweespalt in Afrikanergeledere, vroeg in 1913, die jaar waarin die monument onthul sou word. Eerste minister Louis Botha het 'n sentrale rol vervul in die poging om verskeie groepering na die oorlog in versoening te bring met Brittanje. Botha het ook reeds in 1907 in destydse Transvaal teenstand uitgespreek dat die saak ter oprigting van 'n Vrouemonument tydens politieke byeenkomste bevorder is. Hy was begaan oor die skadelike uitwerking wat gedenkwaardighede verbonde aan konsentrasiekampe op versoeningspolitiek sou hê.

Hierdie verwikkelinge is merkwaardig met inagneming van die uitwerking wat dit gehad het op die oprigting, onthulling en status van die monument. Wat aanvanklik as 'n nasionale gebeurtenis bestempel is, is skielik gehul in omstredenheid op plaaslike vlak, maar met uitwerking op die nasionale front. Selfs Emily Hobhouse moes toetree met 'n pleidooi dat die strydbyl onder die 'Vrouwe-Monument' begrawe moes word.

Ligging [wysig]

Die monument is sowat 3 kilometer suid van sentrale Bloemfontein opgerig. Teen die agtergrond van omliggende heuwels smelt die konstruksie goed saam met 'n landelikheid wat onderliggend is tot die tuiste en bedrywighede van die destydse boere-samelewing. Die monument het oor die plat Vrystaatse omgewing en omliggende koppies gewaak. Uit 'n liriese oogpunt sou gesê kon word dat die monument 'n veelseggende boodskap aan sy omgewing uitstuur.

Sedertdien het uitbreiding die omgewing van die monument verstedelik, maar is 'n oopte behou waarbinne die infrastruktuur van die terrein ‘n landelikheid verteenwoordig. Die terrein word begrens deur Monumentweg en Curielaan.

Uitleg van die monument [wysig]

'n Sirkelvormige beskutting (skermmuur) omring die monument wat aan die voet van 'n gedenknaald, wat 35 meter hoog strek, aangebring is.

Beeldegroep [wysig]

Die beeldegroep bestaan uit 'n vrou sonder kappie, met haar uitgeteerde sterwende kind op haar skoot. 'n Tweede vrou tuur na die verte, terwyl sy die Here aanroep om die tragedie te aanskou.

Die inspirasie vir hierdie toneel is op aangrypende wyse deur Emily Hobhouse beskryf, deur te verwys na die toneel in Springfontein waar die moeder nie na haar sterwende kind kyk nie, maar 'n smart beleef wat verder was as alle trane. 'n Tweede boodskap spreek uit hierdie vrou se oë: haar kind is dood, maar sy sal nie geheel en al uitsterwe nie, haar volk sal nie uitgeroei word nie.

Hobhouse ('n vrou van vele talente en bekwaamhede) het Van Wouw as beeldhouer nie hoog geag nie en kritiek uitgespreek op die eindproduk. Die beelde het volgens haar nie reg laat geskied aan die jammerlike toneel wat dit bedoel was om te verbeeld nie. Sy verwys na die kinderbeeld wat slaap, eerder as om dodelik siek te wees.


Betekenis [wysig]

Die Vrouemonument het groot aftrek geniet, maar is uiteindelik oorskadu deur die aanskoulike Voortrekkermonument wat as nasionale simbool 36 jaar later op 16 Desember 1949 te Pretoria onthul is. Die Voortrekkermonument is onthul in die jaar nadat die Nasionale Party in 1948 triomfantlik politieke beheer in Suid-Afrika verwerf het en het saamgeval met die eeufeesherdenking van die Groot Trek. Daarteenoor is die voorafgaande omstredenheid verbonde aan die oprigting en onthulling van die Vrouemonument deels rede vir die traagheid waarmee dit as nasionale monument erken word.

Gebruike by die monument [wysig]

Die leerlinge van die C & N Meisieskool Oranje in Bloemfontein besoek jaarliks die monument om die nagedagtenis van president M.T. Steyn en historiese gebeure in herinnering te roep. Die besoek is per staptog vanaf die skool en strek oor 'n afstand van 10 kilometer. 'n Kranslegging by die graf van M. T .Steyn word gehou, en verskeie verrigtinge volg om die leerlinge bewus te maak van hul potensiaal om met deursettingsvermoë die tradisies van hul Afrikanervoorsate voort te sit as Christengelowiges en toekomstige leiers in die samelewing.