Tuis
Kinder Blad
Tiener Blad
Boereraat
Boeresport
Diere / Visse / Voels
Geskiedenis
- Webblad
- Persoon
- Boere
- Helde
Godsdiens
Kuns (eie blad)
Humor
Monumente
Musiek
Resepte
Onthou u nog
Skakels
Sport
Taal
Visa en immigrasie
Nuwe Projekte
Kontak Ons
Skaam Jou

 

Rapport

CHANTELLE NICHOLASKaapstad


’n Nuwe Afrikaanse liedjie wat tans wyd geadverteer word, onder meer op SABC2, het die potensiaal om selfs meer omstrede te word as Bok van Blerk se De la Rey.
Anton Myburgh het reeds die ATKV erg omgekrap omdat hy dié organisasie se logo wederregtelik gebruik in die video van die liedjie Boer en sy roer. Die video het ook beelde van die Voortrekkermonument, ossewaens, Bloedrivier, die Anglo-Boereoorlog, die Vierkleur-vlag, asook die Taalmonument.
Myburgh ontken hy probeer De la Rey na-aap.
In dié lied sing Murgpyp (soos Myburgh bekend staan) onder meer: “ Sit jy kettings om sy taal/sal die duiwel jou kom haal./Los sy grond/jy speel met ’n bom se lont.”
Die liedjie bevat ook, soos De la Rey, militêre tromme.
Om verder tot die omstredenheid by te dra, word dit ondersteun deur ’n “Afrikaner-organisasie”, met die webwerf saamstaan.org.
Me. Christine van Deventer, kommunikasie- en bemarkingsbestuurder van die ATKV, sê hulle gaan Myburgh versoek om die ATKV-handelsmerk in sy video op youtube.com en sy eie webwerf te verwyder, aangesien “geen formele of informele versoek” gerig is om dit te gebruik nie.
“In die geval van enige versoek is daar baie dinge wat in ag geneem word, soos of die gebruik van die handelsmerk strook met ons visie dat die ATKV as ’n nie-politieke organisasie funksioneer wat deur middel van Afrikaans sy kennis en kreatiwiteit wil nastreef tot ’n beter, suksesvolle en inklusiewe Suid-Afrika.”
Myburgh self ontken dat hy enigsins probeer om die sukses van De la Rey na te aap, aangesien sy liedjie reeds twee jaar gelede geskryf is.
Hy sê Boer en sy roer handel oor “patriotisme en die samehorigheidsgevoel wat onder die mense gekweek word”.
“Die idee agter die liedjie het ek gekry uit die toestand waarin die land verkeer, asook die feit dat ek en my vrou in ons eie land onveilig voel.”
Hy glo Afrikaanse skole word “gedruk” om te verengels.
Die liedjie is in April vanjaar vir die eerste keer gehoor by die Absa- Klein Karoo Nasionale Kunstefees.
“Die gehoor wou hê ek moes die liedjie weer sing, waarna hulle die koorgedeelte uit volle bors saamgesing het,” sê hy.
Me. Wendy van Niekerk, skakelbeampte van Select Musiek, wat die CD uitreik, sê: “Die liedjie het nog nie 100% ingeskop nie. Dit is ’n groot liedjie met baie potensiaal en ’n lekker vibe.”
Mnr. Piet Smith, stigter en eienaar van die webwerf saamstaan.org, sê hy ondersteun die liedjie omdat Myburgh “trots is op wie hy is en trots is op sy taal, en dit is basies waaroor dit gaan”.
“Hy is nie skaam oor waar hy vandaan kom nie – hy is ’n Boer en Afrikaans. Die hoofdoel van die organisasie is om eers na ons eie mense te kyk, nie dat ons rassisties is nie, maar ons kyk eers na ons Afrikaners voordat ons na ander mense sal kyk.”
Op dié organisasie se webwerf staan onder meer: “Dit is alombekend dat die Boere(sic), Afrikaner, Blanke Suid-Afrikaner steeds die grootste koopkrag het.
“Ons boere is besig om op te staan. Ons weier om te gaan lê en vertrap te word. Daagliks word ons mense aangerand, beroof en vermoor. Dít terwyl ons taal, kultuur en erfenis te na gekom word. Genoeg is genoeg.”
Onderskrif: Anton Myburgh